SWITSERLAND

06 - 17 Mei 2021
  Nege nagte in die luukse Blüemlisalp Hotel in die Alpedorp Beatenberg bokant Interlaken

SWITSERLAND 2021
06 – 17 Mei
(R32 950 plus *verpligte uitgawes van R7 620)
*Sien Nadere Besonderhede vir verpligte uitgawes.
Reisversekering word volgens eie behoefte bepaal
Kan met Rynvaart gekombineer word
RYNVAART, SWARTWOUD EN SWITSERLAND onder Toere: 28 April – 17 Mei
(R62 930 plus *verpligte uitgawes van R9 200)
Ons verblyf in Switserland is in die Alpedorpie Beatenberg in die hartjie van die Bernese Hoogland, slegs 10 km van Interlaken af.
Almal wat al saam met CvW-Toere na Beatenberg gereis het, kan getuig dat dit 'n onvergeetlike belewenis is. 'n Mens kan selfs maar net die geselligheid van die hotel en asemrowende uitsig en omgewing geniet, dan is 'n mens se verblyf reeds oor en oor die moeite werd.
Onderneem jy dan boonop 'n daguitstappie of twee vanaf die hotel, word dit die ervaring van 'n leeftyd!
WAAROM JUIS BEATENBERG?
Switserland het natuurlik ook ander pragtige dele, maar nêrens is die verskeidenheid van natuurskoon geografies so naby mekaar geleë as vanaf Beatenberg nie. Hier beleef 'n mens op een plek alles wat jy in die res van Switserland kry én meer!
Vanuit ons hotel kyk 'n mens af op die diepblou Thunmeer en het jy 'n skouspelagtige uitsig op drie van Switserland se bergreuse: die Eiger, die Mönch en die Jungfrau, wat 'n fokuspunt in die omliggende Alpekettings vorm. Beatenberg lê naby dié en ander beroemde bergspitse wat per kabelspoor bereik kan word. As 'n mens gelukkig genoeg is om 'n sneeuval te beleef, verander Beatenberg in 'n feëparadys!
Dis regtig onbeskryflik mooi en 'n mens staan verruk! Hier vind jy rus en vrede en kan jy nie anders nie as om saam te stem dat jy 'n stukkie hemel op aarde ontdek het.
GERIEFLIKE HOTEL
Daar is seker nêrens in Europa 'n hotel wat mooier geleë is as juis dié een in Beatenberg waarheen ons vir meer as 30 jaar steeds terugkeer en tuisgaan nie.
Daar is pragtige wandelpaaie in die omgewing en dit is byvoorbeeld slegs 10 minute se stap na die rattrein wat na die Thunmeer afry.
Die hotel is toegerus met gerieflike wooneenhede, 'n binnenshuise swembad, sauna en waskamergeriewe.
Daar is elke jaar toerlede wat opmerk dat dit 'n ongelooflike vakansie op sigself is om net in die hotel te bly en die asemrowende natuurskoon te geniet!
DAGUITSTAPPIES
Ons dagprogram gedurende die paar dae wat ons in Beatenberg deurbring, word deur toerlede se individuele belangstellings en behoeftes asook deur die weer bepaal. Sommige toerlede verkies om net by die hotel te bly, die omringende natuurskoon te geniet en uit te rus. Ander durf weer elke moontlike wandelpad in die omgewing aan. Omdat die tandrat- en kabelspoor wat onderskeidelik opgaan na die Niederhorn en afgaan na die Thunmeer, loopafstand van ons hotel is, pak baie toerlede hierdie opsie(s) op hul eie aan.
Die munisipale bus na Interlaken vertrek van reg langs die hotel en hotelgaste ontvang 'n spesiale kaart waarop hulle gratis op hierdie bus na en terug van Interlaken kan ry. 'n Gewilde daguitstappie wat 'n mens op jou eie vanaf Interlaken kan onderneem, is om per trein na Bern te reis en dié stad te verken.
Die toerleier(s) hou die weer fyn dop gedurende ons verblyf in Beatenberg en sal georganiseerde daguitstappies aan toerlede voorhou indien die weer dit toelaat.
Klik op die volgende dokumente vir volledige inligting:
Volledige Program
Nadere Besonderhede
Inskrywingsvorm
Vrywaring

BETALINGS
Toerdeposito's is met inskrywing betaalbaar (Sien Nadere besonderhede en inskrywingsvorm) 
Alle betalings (behalwe deposito's) word eers gemaak wanneer u per omsendbrief daaroor ingelig word
Kontantinbetalings
Kontantinbetalingskoste moet by inbetalings ingesluit word.  Vra u bank hoeveel dit beloop (ongeveer 1% van die inbetalingsbedrag)
Bankdeposito's en elektroniese oorplasings (EFT)
Sien EFT hieronder
Kredietkaartbetalings  
Deposito's en landreëlings kan per kredietkaart betaal word.
BELANGRIK:  Bankdiensfooi van 4% is betaalbaar.  Hierdie bedrag moet bereken en ekstra met alle betalings gemaak word.  Aangesien dit die toerprys onnodig duurder maak, beveel ons dit nie aan nie
Klik op die 'Pay Now'-skakel onder vir kredietkaartbetalings

EFT:  
Bank:
Standard Bank
Rekening: Cheque/Transmission
Rekeningnaam: Christine van Wyk-Toere
Takkode: 051001
Rekeningnommer: 410722782

 

Kredietkaartbetaling:

*Bereken 4% bankdiensfooi ekstra en voeg by kredietkaartbetalings

* Price

Christine van Wyk-Toere
 
CHRISTINE VAN WYK-TOERE is 'n familie-onderneming wat baie waarde heg aan hoëkwaliteit-diens. Met amper 40 jaar se ervaring in díe veld, het Christine se Toere vir die Fynproewer al 'n huishoudelike naam geword by elke Suid-Afrikaner wat in buitelandse gehaltetoere belangstel.